Die Casual Workers Advice Office (CWAO) het verlede week ‘n dringende aansoek by die Arbeidshof ingedien namens ongeregistreerde werkers. Dit is werkers wat nie deur hulle werkgewers by die Werkloosheidsfonds geregistreer is nie. Die aansoek is gebring nadat daar gevoel is dat daar onregverdig teen werkers gediskrimineer word op grond van ‘n doen en late van hul huidige of vorige werkgewers.
Hierdie dringende aansoek was geskeduleer vir die 28ste Mei 2020, maar op die 25ste Mei 2020, het die Minister van Indiensneming en Arbeid, Minister Thulas Nxesi, aangekondig dat hy die regulasies sodanig sal verander dat werkers, ten spyte daarvan dat hul vorige of huidige werkgewers nie aan die nodige en verpligte registrasie van alle werknemers by die Werkloosheidsfonds voldoen het nie, nou self ‘n eis vir vergoeding by die COVID 19 TERS-fonds mag indien.
Hierdie werkers wat reeds sedert die inperking afgelê, tuis moes bly of ontslaan is weens operasionele redes, moes reeds die afgelope twee maande sonder enige inkomste oorleef. Dit raak veral plaaswerkers, huiswerkwers, tydelike werkers en ook buitelanders. Met hierdie ooreenkoms wat die Minister met CWAO gesluit het, sal daar ook nou die vooruitsig van verligting vir die groep werkers wees. Die aansoek is ondersteun deur Izwi Domestic Workers Alliance en Women on Farms Projects.
Artikel deur: Maretha van Rooyen
Dispuutoplossingsbeampte – Durban