Tydens ‘n interne verhoor of tydens die arbitrasieverhoor, is dit soms nie moontlik om direkte of eerstehandse getuienis te bekom of te lewer nie.

Dit kan die geval wees waar byvoorbeeld; ‘n sleutelgetuie oorlede is na ‘n verhoor, maar voor die aanvang van ‘n arbitrasie, waar videomateriaal  nie meer beskikbaar is nie, waar ‘n sleutelgetuie die land permanent verlaat het, ensovoorts. Die moonlikhede is onbeperk.

In gevalle waar partye dan slegs op hoorsê-getuienis kan steun, kom die bepalings van die Wysigingswet op Bewysreg, Wet 45 van 1988  ter sprake, indien;

  • Albei partye daartoe toestem, of
  • Die persoon, op wie se geloofwaardigheid die getuieniswaarde van daardie getuienis afhang, self by die verrigtinge getuig, of
  • die hof, met inagneming van –
  • (i) die aard van die verrigtinge;
  • (ii) die aard van die getuienis;
  • (iii) die doel waarvoor die getuienis aangebied word;
  • (iv) die getuieniswaarde van die getuienis;
  • (v) die rede waarom die getuienis nie afgelê word deur die persoon van wie se geloofwaardigheid die getuieniswaarde van daardie getuienis afhang nie;
  • (vi) enige benadeling wat die toelating van daardie getuienis vir ‘n party mag inhou;
  •  (vii) enige ander faktor wat na die hof se oordeel, in aanmerking geneem behoort te word, en die hof van oordeel is dat daardie getuienis in die belang van geregtigheid toegelaat behoort te word.

Die toelaatbaarheid van hoorsê-getuienis het al verskeie draaie in die Arbeidsreg gemaak.

So het die Hof in die Swiss South Africa (Pty) Ltd v Louw NO and others (2006) 27 ILJ 395 (LC), ‘n beroep op kommissarisse gedoen om hoorsê-getuienis toe te laat, met die minimum regsformaliteite en met inagneming van die omstandighede van elke saak. In Matsekoleng v Shoprite Checkers [2013] 2 BLLR 130(LAC), was die bevinding van die Hof dat die feit dat die outeur van ‘n beëdigde verklaring nie onder kruisverhoor geneem kon word nie, nie rede vir die kommissaris was om dit te weier nie. In die Southern Sun Hotels (Pty) Ltd v SA Commercial Catering & Allied Workers Union and Another (2000) 21 ILJ 1315 (LAC), het die Hof bepaal dat die toets vir die toelaatbaarheid van hoorsê-getuienis altyd gesien moet word in die lig van die belang van geregtigheid vir alle partye.

Artikel deur: Maretha van Rooyen

Dispuutoplossingsbeampte – DURBAN