Tydens die konsiliasieproses, hetsy gedurende die sogenaamde ‘con/arb’-proses, ‘n konsiliasieproses, of waar die partye voor, of gedurende die arbitrasieproses, terugverwys na konsiliasie, word ‘n skikking dikwels bereik deur die betaling van ‘n som geld.

 

So ‘n bedrag kan wissel van ‘n lompsom, die bedrag wat betaal sou word indien die applikant sy kennistydperk sou gewerk het, of enige ander bedrag wat kan wissel van een week tot twaalf maande se vergoeding.

 

Al die partye in ‘n skikking moet egter daarop bedag gemaak word dat die geldwaarde van die skikkingsbedrag, nie noodwendig die bedrag gaan wees wat die applikant in sy/haar bankrekening gaan ontvang nie. Nee, Jan Taks moet eers sy deel kry.

 

‘n Werkgewer is daarom verplig om belasting af te trek van die bedrag betaalbaar ingevolge die skikkingsooreenkoms. Sodanige aftrekking sal geskied ooreenkomstig die belastingaanwysing wat vanaf die SAID aangevra en verkry is. Hierdie vereiste is bevestig in die saak van Shellard Media (Pty) Ltd v Barnard [2000] 11 BLLR 1359 (LC).

 

Om hierdie rede moet daar in ‘n skikkingsooreenkoms voorsiening gemaak word vir die tydperk wat dit sal duur om sodanige belastingaanwysing te bekom. Deur voldoende voorsiening te maak, verhoed dit die nie-nakoming van die ooreenkoms. Die tydperk van voldoening, moet hierdie aspek in ag neem.

 

Dis daarom ook veiliger om in die skikkingsooreenkoms aan te dui dat die bedrag en betalingsdatum, onderworpe is aan die belastingaanwysing van die SAID.

 

Die vorm wat voltooi moet word kan van die werkgewer se naaste inkomstekantoor aangevra word, of per ‘eFiling’, aanlyn voltooi word. (SARS-webwerf)

 

Artikel deur Maretha van Rooyen

Regsadviseur – Durban