Werkgewers behou die reg om een van twee tipes skorsings op te lê, mits die regte prosedure ten opsigte daarvan gevolg word. Sou daar versuim word om die regte prosedure te volg mag ‘n werkgewer moonlik skuldig bevind word van ‘n onbillike arbeidspraktyk deur die Kommissie van Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie.
Ingevolge Artikel 186 (2) (b) van Wet op Arbeidsverhoudinge 66 van 1995 is enige onbillike handeling of versuim wat tussen ‘n werkgewer en werknemer ontstaan met betrekking tot die onbillike skorsing van ‘n werknemer ‘n vorm van ‘n onbillike arbeidspraktyk.
In hierdie verband is dit belangrik om onderskeid te tref tussen die twee tipes skorsing wat geidentifiseer kan word, te wete, ‘n voorkomende skorsing en ‘n skorsing opgelê as ‘n sanksie vir wangedrag waaraan ‘n werknemer skuldig bevind is.
Waar skorsing opgelê word as ‘n sanksie moet die skorsing volg op ‘n billike interne dissiplinêre proses soos omskryf in Skedule 8 – die Goeie Praktykskode van die Wet op Arbeidsverhoudinge.
Die interne dissiplinêre proses se uitkoms moet die werknemer skuldig bevind aan die beweerde wangedrag waarna die sanksie van skorsing opgelê kan word.
Hierdie tipe skorsing word verder onderskei van ‘n voorkomende skorsing deurdat dit obetaald is vir die totale duur van die skorsing.
‘n Voorkomende skorsing word gewoonlik opgelê waar ‘n werkgewer vermoed dat ‘n werknemer hulself skuldig gemaak het aan growwe of ernstige wangedrag. Die doel van die skorsing is tweeledig. Eerstens om die werkgewer die geleentheid te bied om die nodige ondersoek te doen na die beweerde wangedrag, in lyn met Skedule 8 van die wet en tweedens om te versker dat die ondersoek se integriteit behoue bly.
‘n Werknemer wat voorkomend geskors word is geregtig op vergoeding vir die totale periode van die skorsing. Enige weerhouing van betaling sal ‘n onbillike arbeidspraktyk te weeg bring.
Tot onlangs was een van die vereistes van ‘n billike voorkomende skorsing dat ‘n weknemer die geleentheid gegun moes word om vertoë te rig aan die werkgewer rakende hul skorsing.
Hierdie posisie is egter verander in die Konstitusionele Hof se uitspraak in Long v South African Breweries (Pty) Ltd and Others.
Die Applikant in die saak het die Kommissie van Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie genader en aangevoer dat sy skorsing onbillik was weens hy geen geleentheid gebied was om vertoë rakende sy skorsing te lig nie. Die kommissaris het bevind dat dit aanleiding gegee het tot ‘n onbillike arbeidspraktyk en het monetêre kompensasie aan die Applikant toegestaan.
Die Respondent het egter nie in die kommissaris se sentimente gedeel nie en het hul tot die Arbeidshof gewend om aansoek te doen vir die hersiening van die kommissaris se toekenning.
Die Arbeidshof het bevind dat die kommissaris se bevindinge ten opsigte van die aangeleentheid nie korrek was nie. Die hof het bevind dat waar ‘n werknemer voorkomend geskors word, dit gepaard moet gaan met ‘n hangende ondersoek. Indien die werknemer hierdeur benadeel word, kan dit deur die betaling van vergoeding vir die periode van die skorsing verlig word.
Die hof het dus beslis dat waar ‘n werknemer voorkomend geskors word, daar geen vereiste is dat voorsiening vir die rig van vertoë gemaak moet word nie.
Die Konstitusionele hof het die beslissing van die Arbeidshof bevestig.
‘n Werkgewer het daarom die reg om ‘n werknemer voorkomend te skors, met of sonder die rig van vertoë deur die werknemer. Die voorkomende skorsing moet egter regverdig wees en moet die werknemer nie materieël benadeel word nie. Sou dit die posisie wees moet die benadeling versag word deur die betaling van vergoeding vir die periode van skorsing.
Artikel deur: Ilze Erasmus
Dispuutoplossingsbeampte – Port Elizabeth