Wanneer ‘n dispuut na die KVBA verwys word, word ‘n tweeledige proses gevolg. Die eerste proses word genoem konsiliasie. ‘n Kommissaris van die KVBA (Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie) tree op as bemiddelaar en poog om die dispuut tussen die applikant en respondent op te los deur middel van skikking of ontrekking van die dispuut.

 

Die tweede proses, die arbitrasieproses, volg indien ‘n skikking nie bereik is nie. Dit is egter nie die einde van die ‘skikkings’ pad nie, soos menige werknemers al by die arbitrasieverhore ervaar het. Die voorsittende kommissaris het nogsteeds die opsie om die proses in trurat te sit en weer as bemiddelaar poog om die dispuut deur middel van ‘n skikkingsooreenkoms, op te los. Trouens, so ‘n skikking kan enige tyd tydens en net tot voor finalisering van die arbitrasie geskied.

 

So ‘n skikkingsooreenkoms word dan deur die kommissaris opgestel en deur albei partye onderteken. Deel van hierdie skikkingsooreenkoms is ‘n paragraaf wat bepaal dat, sou partye nie die voorwaardes van die skikkingsooreenkoms nakom nie, die skikkingsooreenkoms in gevolge artikel 142A van die Wet op Arbeidsverhoudinge, Wet 66 van 1995 dan ‘n arbitrasiebevel gemaak kan word.

 

In die saak van Bramley v John Wide t/a Ellis Allen Engineering and another [2003] 4 BLLR 360(LC) het die hof bepaal dat ‘n skikkingsooreenkoms ingevolge artikel 142A, slegs verwys word indien die dispuut:

  • Op skrif is,
  • ‘n Dispuut is waarvolgens die party die reg het om dit vir arbitrasie te verwys na die KVBA of na die Arbeidshof vir
  • Artikel 74(4) en 75(7), dispute oor noodsaaklike- en onderhouds dienste is hiervan uitgesluit.

 

Indien ‘n skikkingsooreenkoms aangegaan is en die werknemer/applikant nogsteeds ‘n dispuut na die KVBA verwys in terme van onbillike ontslag, of onbillike arbeidspraktyk, het die KVBA steeds jurisdiksie om so ‘n saak aan te hoor as deel van die KVBA se jurisdiksie om die moontlikheid van ‘n onbillike ontslag/ onbillike arbeidspraktyk aan te hoor. (Mohale v Net 1 Applied t/a Cash Paymasters Services Northern (Pty) Ltd (2012))

 

Indien die applikant egter beweer dat hy/sy die ooreenkoms onder protes geteken het, moet die applikant eerstens bewys dat dwang uitgeoefen is om hom/haar die ooreenkoms te laat teken en verder dat sogenaamde dwang in so ‘n mate geskied het dat dit teen die openbare beleid was. Alleen dan sou die KVBA jurisdiksie hê om na getuienis oor sodanige bewering aan te hoor en na afloop van getuienis van albei partye, ‘n skriftelike beslissing aan die partye te gee. Sou die KVBA in die guns van die applikant beslis, sal die dispuut een van onbillike ontslag/onbillike arbeids praktyk wees en die bewyslas sal op die applikant wees. (Ulster v Standard Bank of South Africa Ltd (C647/2012) [2013])

 

Sou die KVBA egter bevind dat die applikant ten volle bewus was dat hy/sy die ooreenkoms geteken het met die doel om ‘n moontlike dispuut op te los, en al die voordele van so ‘n ooreenkoms alreeds geniet of benut het, sal die kommissaris ‘n skriftelike beslissing uitreik dat die KVBA nie juridiksie het om oor so ‘n skriftelike ooreenkoms te beslis nie.  Hierdie beslissing is gehandhaaf in Rambado v EZ Shuttle (Pty) Ltd (2012)33 ILJ (CCMA)

 

Artikel deur: Maretha van Rooyen

Dispuutoplossingsbeampte – Durban