Igna Klynsmith het op Maandag 24 Junie 2019 in Regsake op RSG, die onlangse uitspraak van die Konstitusionele Hof oor die implikasie van Artikel 198A (3)(b) van die Wet op Arbeidsverhoudinge, bespreek. Wanneer kan ‘n werker wat tydelik deur ‘n arbeidsmakelaar by ‘n werkgewer geplaas is, aanspraak maak op status as permanente werknemer?

 

Op 26 Julie 2018, deur middel van uitspraak in die saak van Assign Services (Pty) Limited versus NUMSA and others, CCT 194/17, 2018 ZACC 22, is voorlopig ‘n einde gebring oor die onsekerheid in verband met die interpretasie van Artikel 198A(3)(b) van die Wet. Die appellant is ‘n arbeidsmakelaar wat tydelike werkers voorsien het aan ‘n kliënt, Krost Shelving and Packaging (Pty) Limited. Ingevolge die bepalings van bogenoemde artikel, het die tydelike werkers, na die verloop van drie maande, die permanente werkers van die kliënt, Krost Shelving and Packaging (Pty) Ltd, geword.

 

Artitikel 198A(1) bepaal dat die artikel van toepassing is op alle werkers wat minder as die inkomstedrempel verdien. (Soos bepaal deur die Minister (Artikel 6(3) van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, Wet 75 van 1997). Huidig is die inkomstedrempel R205 433,30.

 

Die belang en implikasie van die beslissing vir klein en/of ander besighede is egter dat;

  • Sodra die tydperk van 3 maande verstryk het, die ‘kliënt’ outomaties in die plek van die arbeidsmakelaar geplaas word.
  • Die dienskontrak word nie oorgeneem nie, maar gaan outomaties oor op die kliënt van die arbeidsmakelaar.
  • Die arbeidsmakelaar en die kliënt nie daarna gesamentlike werkgewers van die werknemer is nie, maar dat slegs die kliënt die alleen-werkgewer word.
  • Verder, dat al die werkers wat ingevolge die Wet op Arbeidsverhoudinge, deel vorm van werkers soos bepaal deur artikel 198A (3)(b), dieselfde behandeling en vergoeding moet ontvang as werkers wat permanent in diens van die kliënt is.
  • So ‘n werker dieselfde voordele en moontlikhede van bevordering sal geniet.
  • Werkers wat aldus oorgeneem is, nou beskou word as permanente werkers van die kliënt en dat die arbeidsverhouding tussen die arbeidsmakelaar en die werker(s) wat aldus oorgeneem moet word, tot ‘n einde kom.
  • Artikel 198A(3)(b) en artikel 198(2) van die Wet het nie gelyktydig werking nie. Laasgenoemde artikel bepaal dat die werker wat vir ‘n arbeidsmakelaar werk, daardie makelaar se werkgewer is, en dat die werker die werknemer van die arbeidsmakelaar is.

 

Dit is dus van uiterse belang dat werkgewers, indien hul gebruik sou maak van die dienste van ‘n arbeidsmakelaar of ‘n tydelike diensveskaffer, dit om die regte redes sal doen. Die dienste wat benodig word moet eerlik en opreg, net van tydelike aard wees en nie om die gevolge van Artikel 198A(3)(b) te ontsnap nie.

 

Artikel deur: Maretha van Rooyen

Dispuutoplossingsbeampte – Durban