Die Minister van Arbeid, Mnr T W Nxesi, het op 28 April 2020, die volgende regulasies gepubliseer rakende gesondheid en veiligheid in die werksplek van klein besighede met minder as 10 werknemers. Werkgewers moet die volgende voorsorgmaatreëls neem;
- Herorganiseer die verskeie werkstasies sodat daar ten minste (1,5) een en ‘n half meter tussen die werknemers is,
- indien bogenoemde vereiste nie prakties moontlik is nie, moet fisiese afskortings tussen die werkers opgerig word.
- Maak seker deur deeglike toetsing, dat geaffekteerde werkers nie die werksplek betree nie.
- Skakel onmiddelik die COVID-19 (NIOS) hulplyn: 0800 02 9999 vir instruksies wanneer werkers vir hul skof aanmeld en die volgende simptome naamlik; koors, hoes, seerkeel, asemnood, , rooi oë, lyfseer, verlies aan reuk of/en smaak, naarheid, braking, diaree, en/of ‘n pap of moeë gevoel waarneembaar is. Die werkgewer moet daarna die nodige stappe neem om die werker na ‘n mediese fasiliteit vir toetsing te neem. Weereens, met in ag neming van ander werkers en die publiek se veiligheid.
- Indien bogenoemde simptome tydens werksure ondervind word, moet die werker onmiddelik na aangemelding geïsoleer word. Weereens moet die COVID-19 noodlyn 0800 02 9999 geskakel word en die werker so spoedig moontlik vir die nodige mediese ondersoek en toetsing geneem word met in ag neming van die veiligheid van medewerkers en die publiek.
- Plaas die werker dadelik op betaalde siekverlof.
- Voorsien alle werkers van ‘n materiaal gesigmasker bestaande uit drie (3) lae wat beide die mond en neus bedek terwyl hul by die werk is. Indien so ‘n masker nie beskibaar is nie, moet ‘n ander vorm van bedekking soos ‘n t-hemp of katoen serp intussen gebruik word.
- Voorsien elke werker van ‘n handreiniger (met ‘n minimum alkohol- inhoud van 70%) of/en seep en skoon water vir gereelde handewas.
- Hou verder toesig en maak ook seker dat alle werkers gedurende werkstyd hulle hande gereeld was en ontsmet.
- Die werksoppervlaktes en gereedskap moet gereeld met ‘n sterk ontsmettingsmiddel ontsmet word.
- Doen verder ook alles moontlik om die risiko van besmetting in die werksplek te verminder en ‘n veilige omgewing te skep deur byvoorbeeld op die maatskappy se onkoste te reël vir 2020 griep-inenting vir alle werkers.
Artikel deur: Maretha van Rooyen
Dispuutoplossings Beampte – Durban